Om ’n instrument te kan bespeel is ’n lewensverrykende vaardigheid en voorreg waaraan te min kinders blootgestel word. Kleuterklassiek is ’n kindervriendelike groepsaktiwiteit waaraan ses tot agt kleuters op ’n slag deelneem. Kleuters tussen die ouderdom van vier en sewe kry die geleentheid om tydens die verloop van ’n jaar basiese kennis en vaardighede aan te leer vir verskillende instrumente, soos klavier, viool, blokfluit en slaginstrumente. Op hierdie manier word daar nie net waardering vir musiek by kinders gekweek nie, hulle leer ook lewenslange vaardighede aan.

Deur die kleuter bloot te stel aan verskillende instrumente, maak Kleuterklassiek dit moontlik om sy of haar belangstelling en aanleg te toets voordat duur instrumente aangekoop word. Aan die einde van die program kan aanbevelings gemaak word ten opsigte van toekomstige musieklesse op grond van die kleuter se ervaring van Kleuterklassiek. Kleuters wat reeds op ‘n vroeë ouderdom met Kleuterklassiek begin, kan ná die eerste jaar steeds aanhou met die program. Instrumente en musiek sal dan in meer diepte aangebied word.

Daar word tydens skoolkwartale weekliks een les van 40 minute aangebied. Elke kleuter het gedurende die les sy of haar eie instrument en alle toerusting word deur Kleuterklassiek voorsien.

Huidige kleuterklassiek ouers sê die volgende:

Kleuterklassiek is ‘n fantastiese program wat aan kinders die wonderlike wêreld van musiek bekendstel.

My kinders het soveel geleer in die jaar: nuwe woordeskat, moedig kreatiwiteit aan, leer dissipline en gee hul meer selfvertroue vir die nuwe skooljaar. Musiek maak kinders GELUKKIG!

— Tanile (2021)

Liefdevolle en bekwame musiekjuffrou wat haar entoesiasme aan die kinders oordra. Uit en uit ‘n vreugde om saam met my dogtertjie deel te wees hiervan.

— Izell (2021)

Kleuterklassiek is ‘n wonderlike program! My seuntjie sien elke week uit na die les en ek kan sien hoe sy belangstelling en liefde vir musiek ontwikkel, hy kom leer selfs vir ons by die huis ‘n ding of twee!

— Elzaan (2022)
Oulike program gepas vir ouderdom, kinders is mal daaroor!!! Dit maak basiese musiekbeginsels pret.
— Chrisna (2022)

Ek is so dankbaar vir die blootstelling wat ons kinders kry deur Kleuterklassiek. Ek voel ongelooflik bevoorreg dat julle die tyd en moeite neem om ons kinders te leer. Julle ploeg werklik in ewigheidswaarde!

— Cindy (2023)

Kleuterklassiek is ‘n heerlike blootstelling aan die musiekwêreld en ‘n verskeidenheid instrumente. Dit ontlok ‘n liefde vir musiek en nuuskierigheid om dit verder te ontdek. Dit is beslis ‘n hoogtepunt in Daniel se week!

— Jonelle (2023)